Hoewel die departement van internasionale betrekkinge en samewerking, Dirco, nog nie Israel se ambassadeur in Suid-Afrika die trekpas gegee het nie, het Dirco amptelik sekere voorwaardes en vereistes op Eli Belotsercovsky beteken.
Die ambassadeur word versoek om homself “te gedra” kragtens die Weense Konvensie, wat die regte en verpligtings van diplomate uitspel.
Luidens die verklaring wat Dirco vanmiddag uitgereik het, is die belangrikste hiervan, om die soewereiniteitsbesluite van die gasheerland te eerbiedig.
Hierdie stap – op aandrang van die Kabinet – kom daarop neer dat die ambassadeur onder ‘n soort sensuur geplaas word.
Dit is egter Dirco wat moet besluit of die ambassadeur die land sal moet verlaat. In die verklaring word daar slegs na “betreurenswaardige optrede” verwys.
Die Kabinet het ook nie gesê watter reëls na bewering deur die ambassadeur oortree is nie.