Israel sê Suid-Afrika is medepligtig aan Hamas se “volksmoord-veldtog” teen sy mense.
Eylon Levy, woordvoerder van die Israeliese regering, sê voorts Suid-Afrika maak hom skuldig aan die lewensverlies van Israeliese burgers in die Gasastrook.
News24 berig hierdie aantygings kom nadat Suid-Afrika Israel van “volksmoord” by die Wêreldhof verkla het.
Volgens Levy skaar Suid-Afrika hom openlik by Hamas. Hy sê Israel sal voor die hof verskyn, om dit wat hy ‘n “absurde bloedlaster-klag” noem, te beveg.
Met verwysing na Suid-Afrika se historiese keuse van internasionale bondgenote, waarsku Israel Suid-Afrika se leiers; Hy sê die geskiedenis sal Suid-Afrika veroordeel, en dat hierdie veroordeling genadeloos sal wees.