Israel se weermag berei hom voor vir “genadelose aanvalle” om die Palistynse militante-groep, Hamas te “vernietig”.
Luidens Reuters het die voormalige Amerikaanse president, Barack Obama, gewaarsku enige Israeliese militêre strategie wat nié die prys van lewensverlies in ag neem nie, kan katastrofiese gevolge inhou.
Die Palestynse ministerie van gesondheid het intussen gesê die dodetal in Gasa oorskrei reeds 5 000. Die sterftes kom ná Israeliese lugaanvalle, in reaksie op Hamas se onverwagse 7 Oktober-aanval.
Minstens 1 400 mense is in die aanval dood en meer as 200 mense is gyselaar geneem.
Intussen het die Rooikruis gistraand bevestig Hamas het twee bejaarde Israeliese vroue vrygelaat wat vroeër deur die militante groep gyselaar geneem is.
Die vroue, in hul laat 70’s of vroeë 80’s, is volgens IOL, tesame met hul mans by ‘n kibboets gyselaar geneem. Israeliese media, wat regeringsbronne aanhaal, berig die twee mans word steeds in Gasa aangehou.
Een van die mans is skynbaar ‘n vredesvegter wat hom vir menseregte in Gasa beywer. Dit word gestel dat hy mense in Gasa gehelp het
om mediese behandeling in Israel te kry.