Die hoofkiesbeampte van die Onafhanklike Verkiesingskommissie, Sy Mamabolo, sê oudpresident Jacob Zuma se gesig sal op die stembrief as die leier van die MK-party bly. Dít ongeag die Konstitusionele Hof se beslissing oor sy voldoeningstatus as kandidaat.
Die OVK het die Konstitusionele Hof genader in appèl teen die Kieshof se beslissing dat Zuma geregtig is om as kandidaat te staan, ten spyte daarvan dat hy in 2021 tot 15 maande tronkstraf gevonnis is. Volgens die Kieshof kan Zuma se straf nie as ʼn vonnis beskou word nie, omdat hy nie daarteen kon appelleer nie. Vertoë is deur die Konstitusionele Hof aangehoor, maar uitspraak word steeds voorbehou.