Die sanger en liedjieskrywer Jannie du Toit ontvang op 19 September op die Aitsa-toekenningsaand in Pretoria ‘n eerbewys vir sy lewenslange bydrae tot die bevordering van Afrikaanse musiek. Die 71-jarige Du Toit vertel aan Netwerk24 dit is ‘n wonderlike eer – een wat vir ‘n ou moed gee vir die toekoms. Sy loopbaan het in 1971 begin, en hy was een van die rolspelers in die vestiging van oorspronklike Afrikaanse musiek. Gedurende sy studentejare het hy betrokke geraak by rock- en popgroepe en hy was die stigterslid van die Afrikaanse folkgroep Trilogie. Trilogie is in 1976 op die American Song Festival met ‘n ereprys bekroon. Du Toit het sy bekende liedjie “’n Liedjie vir jou” in 1978 geskryf en was nou betrokke by die Musiek en Liriek-beweging wat in die laat 1970’s posgevat het.