Janusz Walus, wie skuldig bevind is aan die moord op Chris Hani in 1993, gaan nié gedeporteer word nie, en sal tot die verstryking van sy vonnis in Suid-Afrika bly.
Maroela Media berig daar is die afgelope week bespiegel dat sou Walus na Pole gedeporteer word, hy geen parool sou hoef uit te dien nie, aangesien die uitspraak
nie van toepassing is in Pole nie.
Die departement van binnelandse sake het Walus se vrystelling ingevolge die Immigrasiewet toegestaan om sy parooltydperk in Suid-Afrika uit te dien.
Die departement het gister gesê die vrystelling is toegestaan op voorwaarde dat Walus geensins van reisdokumente, wat deur die ambassade van Pole uitgereik is, gebruik maak nie.
Parool is verlede maand aan Walus toegestaan ná vele mislukte paroolaansoeke.
Walus het reeds 28 jaar van sy vonnis agter tralies uitgedien.