Die kommissie van ondersoek na die brand in die Usindiso-gebou in Marshalltown in Johannesburg verlede jaar het gehoor dat die Metro nie genoeg hulpbronne gehad het om die hewige brand te blus nie. Altesaam 76 mense is in die brand dood. SABC-nuus berig die openbare sittings oor die verhoor is Woensdag voortgesit met die getuienis van die hoof van ‘n private brandweerdiens, Wynand Engelbrecht. Sy maatskappy het op 31 Augustus saam met ander nooddienste die brand in die gebou geblus wat onwettig beset is. Engelbrecht het getuig die Wet op Brandweerdienste bepaal dat ‘n stad oor 70 tot 120 brandweerwaens moet beskik, terwyl die Johannesburgse Metro tydens die brand slegs sowat vyf brandweerwaens gehad het.