Die gekaapte geboue in Johannesburg is ‘n tikkende tydbom en is nie veilig teen brande nie. Die dodelike brande soos die afgelope week waarin 76 mense gesterf het, kan weer gebeur. Die waarskuwing kom van dr Mpho Phalatse, oud-burgemeester van Johannesburg en Angela Rivers, hoofbestuurder van die Johannesburgse eiemdomseienaars-en bestuursvereniging. Rivers het gesê daar was reeds drie brande die laaste ses jaar in die middestad. Enige gekaapte gebou is ‘n brandgevaar want brandtoerusting word verkoop as skrootmetaal, berig Netwerk 24. Die oorsaak van Donderdag se brand is nog onbekend. Die onwettige besetters het tydens die brand by die gebou se vensters uitgespring om aan die vlammehel te ontkom. Herman Mashaba het gister gesê in sy tyd as burgemeester was daar meer as 600 gekaapte geboue in die stad. Hy het gesê die ANC het hom gekeer om op te tree en hy is voor die Menseregte-kommissie gedaag.