Julius Malema se regspan sê die patroondoppie wat opgetel is na afloop van sy beweerde afvuur van ‘n vuurwapen ten tyde van ‘n EFF-saamtrek, kon geplant wees.
Malema staan tereg op aanklagte van die onwettige besit van ‘n vuurwapen, die onwettige besit van ammunisie en drie aanklagte van die oortreding van die Wet op die Beheer van Vuurwapens.
Rosestad 100.6FM-nuus het vroeër berig AfriForum het klagte in 2018 teen die EFF-leier aanhangig gemaak, nadat videomateriaal versprei is waarin dit voorkom dat hy ‘n vuurwapen roekeloos in die openbaar afvuur.
Die verdediging voer aan dat dit nie ‘n regte vuurwapen is wat Malema in die videomateriaal in sy hand het nie.
Regter Twannet Olivier sal na verwagting vandag in die streekhof in Oos-Londen uitspraak oor die toelaatbaarheid van die videomateriaal as bewysstuk lewer.