Een van drie vermeende kabeldiewe is deur gemeenskapsekuriteit gestuit net voor hulle kabels in Fichardtpark, Bloemfontein, kon knip.
Die Fichardtpark woonbuurt assosiasie deel dat ʼn verdagte kort na middernag by die Du Plooy-veld opgemerk is.
Gemeenskapsekuriteitsbeamptes het gesien hoe drie verdagtes begin weghardloop.
Een verdagte is in die veld langs die Martie du Plessis-skool vasgetrek.
Grawe, pikke, ’n staalsaag en matrasse is in beslag geneem waar hulle vermoedelik langs die treinspoor kabels wou knip.
Terwyl ander sekuriteitsmaatskappye bystand verleen het om die vermeende misdadigers te keer, het die SAPD sake geopen vir poging tot diefstal en beskadiging van noodsaaklike infrastruktuur.