Die kantoorhoof van die Gift of the Givers in Gaza, Ahmed Abbasi, is vandag saam met sy broer in ‘n Israeliese aanval dood. Abbasi het ‘n paar dae gelede genoem dat hy en sy familie van 34 in hul eie woonstel sal wag op hul beurt om met waardigheid te sterf as om van plek tot plek te hardloop soos die Israeliese weermag, of IDF, aanbeveel. Volgens ‘n verklaring van dr Imtiaz Sooliman, direkteur van die organisasie, was Abbasi sedert 2013 verantwoordelik vir verskeie projekte soos die versorging van weeskinders, weduwees, bejaardes en siekes. Sooliman het gesê die organisasie is dankbaar vir die 40 dae wat hy sy mense in hierdie oorlog gedien het.