Net soos in die rolprent Karate Kid, weerspieël Bloemfontein se Theuns Pieters soortgelyke eienskappe wat “Mr. Miyagi” trots sou maak.

Pieters is ‘n 15-jarige leerling van Grey College wat sedert 2020 aan groot karatekompetisies deelneem en die Vrystaatspan se naam hoog hou. Gedurende ‘n toernooi in 2021 het hy ‘n goue medalje in die kinderafdeling sowel as ‘n silwermedalje in die SA Elite Kampioenskap verower.

Benewens sy tweede plek op nasionale vlak, kon Pieters ook spog met ‘n Karateka van die Jaar-toekenning.

Dit het Theuns gehelp om in 2022 sy Proteakleure te kry, maar, net soos in die rolprent, het ongeluk in 2023 toegeslaan. Tydens ‘n toernooi het hy sy knie gebreek. Na die operasie was alle sport vir ses maande buite sy bereik.

FOTO: Theuns Pieters (verskaf)

Pieters het die opdraande stryd aangepak, en in Januarie 2024 is hy weer vir die Vrystaatspan gekies. Hy het nie net sy Vrystaatkleure herwin nie, maar ook vir die nasionale span gekwalifiseer om aan ‘n toernooi in Namibië deel te neem.

Verder het Pieters Suid-Afrika in 2024 tydens die Wêreldkampioenskap in Tokio verteenwoordig. Die Statebondspele lê voor, wat in November 2024 in Durban gehou gaan word, en Theuns is gekies om vir Suid-Afrika in Kumite en Kata deel te neem.

error: Inhoud is beskerm !!
×

Rosestad, Waar jy wil wees, trots in Afrikaans

×