Good is een van talle politieke partye en drukgroepe wat die voorgestelde ooreenkoms tussen die Karpowership-kragvoorsieningsprojek en Ezemvelo KZN Wildlife as blatante en onwettige omkopery beskou.
Die Good-party se reaksie volg nadat Karpowership, ‘n Turkse maatskappy, glo ‘n wildsplaas aan Ezemvelo KZN Wildlife wil skenk, in ruil vir goedkeuring om ‘n kragskip in die Richardsbaai-hawe vas te meer.
Good meen om ‘n wildsplaas in ruil te gee vir moontlike grootskaalse omgewingskade, asook die bedreiging van sekere riviermondspesies, is
verregaande.
Intussen betwis die omgewingsdrukgroepe, Green Connection en Natural Justice, die regering se besluit om Karpowership se generiese
omgewingsbestuursprogram vir Saldanhabaai in die Wes-Kaap te oorweeg.
Volgens die organisasies is die minister van Bosbou, Visserye en Omgewing, Barabara Creecy, se besluit hieroor onwettig, omdat sy nie hulle teenargumente oorweeg het nie.
Die departement het glo erken dat Creecy weens ‘n sogenaamde administratiewe fout, nooit die groepe se teenargumente onder oë gehad het nie.