Kiesers gaan drie stembriewe kry wanneer hulle op 29 Mei in die nasionale en provinsiale verkiesing stem. Volgens die Onafhanklike Verkiesingskommissie, of OVK, sal dit die grootste verandering in vanjaar se verkiesing wees. Sy Mamabolo, hoofkiesbeampte van die OVK sê die verkiesing vir die Nasionale Vergadering gaan op twee afsonderlike stembriewe gebeur.
Tydens vorige verkiesings was daar net een nasionale stembrief, maar vandat nuwe wetgewing ingestel is om onafhanklike kandidate ook toe te laat, moes dit aangepas word. Mamabolo sê die eerste stembrief is ‘n streek-stembrief om LP’s vir die Nasionale Vergadering van die nege provinsies te verkies. Elke provinsie sal sy eie unieke streek-stembrief hê. Die tweede stembrief is vir die Nasionale vergadering wat net deur politieke partye betwis word. Die derde stembrief is vir die verkiesing van die provinsiale wetgewers vir politieke partye en onafhanklike kandidate.