Kimberley se watersekerheid gaan moontlik verbeter met die aflewering van 16 pype vir die vervaardiging van hul grootmaatpypleiding.
Netwerk24 berig die pypleiding sal water vanaf die Riverton-watersuiweringsaanleg by die Vaalrivier na die Newton-reservoir in Kimberley neem.
Nietemin is 16 pype van die byna 1 800 wat nog moet kom, ’n druppel in die emmer van die R2,5 miljard wat in die Sol Plaatjie Munisipaliteit belê word.
Die begroting vir die opknapping van die gebied se infrastruktuur dek 35 projekte wat in drie fases oor agt jaar geïmplementeer gaan word.
Die huidige watersuiweringsaanleg is tussen 50 en 70 jaar oud en sal ná opknapping nog 50 tot 70 jaar se betroubare waterverskaffing lewer.
Volgens die distrik se munisipale bestuurder, Thapelo Matlala, behoort hierdie projek oor 18 maande voltooi te wees.