Die 7-jarige Bloemfonteinertjie, Janique Venter, en haar gesin is veilig terug in Suid-Afrika vanuit Amerika.
Luidens ‘n plasing op Arms of Mercy se sosialemediablad het sy en haar ouers tans griep en vra hulle dat hul privaatheid gerespekteer word terwyl hulle tyd neem om te rus en te herstel.
Die plasing meld ook dat daar nog terapie en ‘n belangrike skandering vir Janique voorlê om te bevestig dat sy kankervry is.
Rosestad-nuus het vroeër berig die 7-jarige dogtertjie is op ses maande met ‘n kwaadaardige gewas aan die regterkant van haar nek gediagnoseer, wat druk op haar lugpyp veroorsaak het.
Tydens ‘n operasie by die St Jude Kindernavorsingshospitaal, in Memphis, Tennessee, is dié gewas van haar nek verwyder.