‘n Boer van Fochville het koelkop gebly toe hy probeer voorkom het dat vermeende veediewe 75 van sy beeste en kalwers probeer steel het. Die 53-jarige Frans de Bruyn het aan Maroela Media vertel hy was alleen in sy huis toe alarms by sy kraal kort voor elfuur afgegaan het. Hy het gehoor sy diere is onrustig en in die stikdonker na die kraal gestap toe die skote begin klap. De Bruyn vertel sy weermag-opleiding het ingeskop en hy het platgeval en teruggeskiet. Hy kon ook die plaaslike gemeenskaps- polisieringsforum kontak. Die reaksie van die polisie en boere was uitstekend maar ongelukkig het die verdagtes in die nag verdwyn. De Bruyn het gesê hy is reeds besig om nog planne te maak om sy vee te beveilig.