’n Man van 63, word tans in die waakeenheid van ’n hospitaal behandel nadat hy en drie ander vandeesweek in die vroeë oggendure op ’n kleinhoewe in die omgewing van George vasgebind en met onder meer ’n koevoet aangeval is.
Maroela Media berig ’n bejaarde vrou van 88 het tydens die aanval glo haar heup gebreek.
‘n Betroubare bron het vandag gesê dit was ’n wrede aanval, en die aanvallers het verskeie kere op die vrou getrap en haar glo vreeslik geskop en geslaan.
Volgens die bron het vier aanvallers Dinsdag omstreeks 01:30 op ’n huis op ’n kleinhoewe in Hansmoeskraal toegeslaan.
Die man wat tans in die waakeenheid aansterk, sy drie-en-sestig-jarige vrou en twee bejaardes, onder wie ’n 85-jarige man wat ten tyde van die aanval uit die buiteland by die egpaar in Hansmoeskraal gekuier het, het geslaap. ‘n Polisieondersoek duur voort.