Die Kopanong munisipaliteit, wat dorpe soos Jagersfontein, Fauresmith, Philippolis en Trompsburg insluit, is so kniediep in die skuld dat hulle vandeesmaand nie salarisse kon betaal nie. Netwerk 24 berig ‘n pensioenfonds aan wie meer as R100 miljoen geskuld word, het beslag op die munisipaliteit se bankrekening gelê.
Kopanong skuld ook meer as R650 miljoen aan die Vaal Sentrale Waterraad. Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens het vroeg in Januarie R19 miljoen uit die munisipaliteit se bankrekening geneem wat aan hom geskuld is. Athenkosi Mabona, woordvoerder van die Vrystaatse departement vir samewerkende regering en tradisionale sake, het die beslaglegging bevestig en gesê ‘n hofsaak daaroor kom Vrydag in die hooggeregshof in Bloemfontein voor. Kopanong is reeds onder administrasie geplaas.