Eskom is tydens die era van staatskaping aan groot fisieke, kulturele en finansiële skade onderwerp. Só het sy uitvoerende hoof, André de Ruyter, Donderdag by News24 se On the Record-konferensie in Gauteng gesê. Dié nuusagentskap berig voorts De Ruyter het gemaan om versigtig te wees om nie nostalgies oor die “goue verlede” te wees nie. Hy het gesê Eskom moet eerder by die nuwe werklikhede aanpas en toekomsgerig wees. De Ruyter het gesê hy het nie besef hoe groot die verwaarlosing by Eskom was nie. Hoewel Eskom ‘n klomp vaardige mense verloor het, is daar volgens hom nog steeds briljante mense by die kragverskaffer. Hy het ook gesê daar is steeds korrupsie by Eskom en dat korrupsie nie bloot verdwyn het toe die Guptas die land verlaat het nie.
