Kragonderbrekings wat groot gedeeltes van Bloemfontein die afgelope week teister, bedreig die lewe van mense wat van suurstofmasjiene afhanklik is.
Netwerk24 berig by die hospies in Dan Pienaar, moes die personeel gister dringend ‘n plan beraam toe hulle UPS-noodkragtoestel, ten tyde van ‘n lang kragonderbreking, uitgebrand het.
Al die pasiënte hier is van suurstof afhanklik.
Een van die verpleegsters se broers het die situasie tydelik beredder deur die hospies van ‘n kragopwekker te voorsien.
Hanneke Lubbe, hoof van die hospies, het gesê dit gaan minstens R4 500 kos om die UPS te laat herstel.
Dit is ‘n onverwagse uitgawe waarvoor hierdie nie-regeringsorganisasie nie kon begroot nie.
Lubbe het gesê ‘n gaskragopwekker kan dalk die oplossing wees, maar dat dit derduisende rande sal kos.