KRIEKET – Australië het ’n onervare Protea span gisteraand in die 1ste T20 wedstryd op Kingsmead met 111 lopies verpletter.
Die Aussies met kaptein Mitch Marsh aan die voorpunt het die tuisspan se boulers aan flarde geslaan en 226 / 6 opgestapel. Marsh het op 3 gekolf en 92 nie uit nie aangeteken terwyl Tim David ook die langsteel ingelê het met ’n bydrae van 64.
Die Proteas kon net 115 bymekaar skraap en was in die 16de boulbeurt almal reeds terug in die kleedkamer. Net Reeza Henricks kon tevrede met sy telling van 56 gaan slaap het terwyl Rassie van der Dussen en Marco Jansen die ander 2 was wat darem dubbelsyfers kon aanteken.
Die 2de T20 word weer môreaand in Durban beslis.