Kagiso Rabada is beskikbaar om weer krieket te speel nadat hy ‘n skorsing van een maand uitgedien het wat aanvanklik vir drie maande was omdat hy positief getoets het vir ‘n “ontspanningsdwelm” tydens die SA20-toernooi in Januarie.
Die Suid-Afrikaanse snelbouler is in April van die toets-uitslag ingelig terwyl hy in Indië was vir IPL verpligtinge en sy franchise die Gujarat Titans gevra het om weens ‘n “belangrike persoonlike saak” terug te keer huis toe.
Terwyl Rabada ‘n dwelmbewustheidsprogram voltooi het en ondersteuning van Krieket Suid-Afrika ontvang het, het die voormalige Australiese kaptein Tim Paine die gebrek aan deursigtigheid gekritiseer en gesê dwelmgebruik moet nie as ‘n blote persoonlike kwessie beskou word nie.
Ondanks die omstredenheid gaan KG hom vandeesweek weer by die Titans aansluit en bly hy ‘n belangrike deel van Suid-Afrika se planne vir volgende maand se Wêreld-toetskampioenskap-eindstryd teen Australië op Lord’s.