Die Knights het hul eerste oorwinning in die KSA Eendagbeker-reeks behaal nadat hulle die verdedigende kampioen die Westelike Provinsie met 157 lopies afgeransel het op die Mangaung Ovaal.

Die tuisspan het ’n reuse 311 / 6 aangeteken met Dian Forrester wat weer geskitter het met die wilgerlat en onoorwonne was op 113 terwyl Tiaan van Vuuren met ’n haastige 41* van 18 aflewerings aan diè totaal help slyp het.

Daarna het Van Vuuren met die wit Kookbaburra die Kapenaars se lopiejaagtog help rem toe hy 3 / 16 platgetrek het terwyl Malusi Siboto en kaptein Dane Piedt elkeen ook met twee paaltjies kon spog.

Die Knights speel Woensdag weer tuis teen die Boland wat tans bo-aan die punteleer is met drie uit drie oorwinnings in vanjaar se reeks.

*In die Kampioene Trofee-toernooi het Indië hul segetog in voortgesit na ‘n maklike oorwinning van ses paaltjies oor Pakistan in Dubai terwyl Australië vir Engeland met vyf paaltjies in Lahore kon stuit.

Die Proteas wat Afghanistan maklik in hul openingswedstryd geklop het is weer Dinsdag terug op die veld waar die einste Australië op hulle wag in Rawalpindi.

 

error: Inhoud is beskerm !!
×

Rosestad, Waar jy wil wees, trots in Afrikaans

×