Die Knights was Woensdagaand teen die Dolphins op die Mangaung Ovaal in aksie en het diè wedstryd met ses paaltjies verloor.
Die tuisspan was eerste voor die paaltjies en het 155 / 9 aangeteken met Jacques Snyman wat weer die lopies laat vloei het met sy bydrae van 58 vanaf 37 aflewerings wat ses viere en twee sesse ingesluit het.
Die Dolphins was egter in die begin in die moeilikheid maar het skitterend herstel met die Speler van die Wedstryd Jason Smith wat die beurt geanker het met 65 onoorwonne lopies en ook drie paaltjies laat tuimel het vir slegs 21.
Die Eastern Storm was ook in aksie teen die Northern Cape Heat in die eerste halfeindronde van die KSA T20 Uitklop-reeks en het maklik met 77 lopies op Willowmore Park in Benoni geseëvier. Die Gautengers het 222 / 2 aangeteken en die Noord-Kapenaars tot 145 almal uit beperk.
In die tweede halfeindronde wat Donderdag gespeel word sal die Tuskers teen die Garden Route Badgers sake op die Pietermaritzburg Ovaal uitspook.
Die voormalige Protea-kolwer AB de Villier is ingehuldig in die Internasionale Krieketraad se heldesaal.
De Villiers is Woensdag saam Alastair Cook en Neetu David ingehuldig en is die 115de speler wat deel word van diè heldesaal.
De Villiers het ‘n ongelooflike loopbaan geniet as beroepspeler vir 14 jaar en het meer as 20 000 lopies aangeteken in internasionale krieket oor al die weergawes van die spel, en volgens De Villiers is dit ’n baie groot eer om hierdiè erkenning te kry.