KRIEKET – Suid-Afrika se o.19 Wêreldbeker span het hulself mooi reggeruk na Saterdag se loesing teen Indië en die 2de groepwedstryd gister teen Skotland met 44 lopies gewen.
Die jong Proteas kon net 112 / 7 op die telbord plaas. Uitblinkers met die kolf was die Speler-van-die-Wedstryd Kayla Reyneke wat 53 lopies bygedra het en is ook goed ondersteun deur Jenna Evans met 22 nie uit nie.
Skotland se beurt het wankelrig begin en geëindig en die span kon net 68 lopies bymekaar maak terwyl Madison Landsman die Skotte flenters geboul het met syfers van 4 / 16 wat ook ’n driekuns ingesluit het.
In nog ’n wedstryd wat ook gister afgehandel is het Australië die span van die VSA met 9 paaltjies verniel.
Nadat die Southern Stars ook in hul openingswedstryd teen Bangladesh pak gekry het , het die Aussies met briljante boul en veldwerk die Amerikaners uitoorlê en was die span almal terug in die kleedkamer vir net 64 lopies. 5 van die VSA se kolwers is uitgehardloop terwyl Maggie Clark die beste met die witbal gevaar het en 2 paaltjies vir 14 lopies laat kantel het.
Vanoggend speel Zimbabwe teen Rwanda en Nieu-Seeland ontmoet Ierland terwyl die middag wedstryde tussen die Windies en Indonesië asook Engeland en Pakistan beslis sal word.