Die Durban Super Giants se SA20-reeks is iets van die verlede nadat die Paarl Royals hulle Maandag met 6 paaltjies op Bolandpark kon uitstof.

Die besoekers het eerste gekolf en 143 / 7 in hul toegelate 20 beurte opgestapel met die Aussie Marcus Stoinis wat een van sy span se uitblinkers was met ’n onoorwonne 55 van 40 aflewerings.

Daarna het die tuisspan se sterkolwer in diè reeks die 18-jarige Lhuan-dre Pretorius weereens gewys dat hy binnekort vir hoër louere gaan aanspraak maak toe hy nog ’n goeie beurt van 43 gespeel het.

Daar was egter drama in die laaste boulbeurt nadat die Royals drie lopies van die laaste twee aflewerings benodig het toe die veelsydige Dayyaan Galiem met ’n kanon ses oor die middebaan grens die tuisspan se onoorwonne rekord in die Paarl kon behou.

*Die Wes-Indiese Eilande het ‘n geskiedkundige toetsoorwinning oor Pakistan verdien in hulle tweede en laaste wedstryd in Multan.

Die Windies het ook Maandag ‘n 129 lopie oorwinning behaal na hulle die tuisspan uitgeboul het vir 133 en Pakistan die eerste keer in byna 35 jaar weer kon klop.

Pakistan se volgende wedstryd is teen Nieu-Seeland in die eerste wedstryd van die Kampioenetrofee op 8 Februarie met die Windies wat einde Mei in England toer nadat diè eilandspan nie vir die Kampioenetrofee-reeks kon kwalifiseer nie.

** Die Indiese snelbouler en paaltjievraat Jasprit Bumrah is as die Internasionale Krieketraad (IKR) se 2024 Toetsspeler van die Jaar aangewys waar Jassi  in 13 toetse 71 paaltjies laat spat het.

Bumrah se landgenoot Smriti Mandhana is as die Eendagspeler van die Jaar vir vroue aangewys vir haar 747 lopies wat sy in 13 wedstryde kon insamel. Die Proteas se kaptein Laura Wolvaardt , Annabel Sutherland van Australië en Sri Lanka se Chamari Athapaththu was van die ander spelers wat op die kortlys was.

error: Inhoud is beskerm !!
×

Rosestad, Waar jy wil wees, trots in Afrikaans

×