Die Protea vroue se aanspraak op ’n plek in die halfeindronde van die T20 WB-toernooi is nog in die weegskaal alhoewel hy Bangladesh Saterdag met 7 plaatjies in Dubai geklop het.
Die Tiere het slegs 106 / 3 bymekaar gemaak waarna Suid-Afrika die wenteiken in die 18de boulbeurt bereik het. Tazmin Brits het weereens die beurt geanker met 42 lopies wat 5 viere ingesluit het.
Engeland is tans bo-aan Groep B nadat hulle Sondag met 10 paaltjies teen Skotland gewen het. Die Proteas is in die tweede plek op die punteleer en sal hul hoop nou op die Engelse plaas om die Windies – wat met ‘n beter gemiddelde lopietempo spog – Dinsdag te klop om sodoende die Suid-Afrikaners te help deursien na die halfeindronde van diè toernooi.
In die ander wedstryd wat ook Sondag gespeel is het die verdedigende kampioen Australië in ’n naelbytstryd Indië met 9 lopies getroef.
*In die plaaslike KSA-reeks het die Knights teen die Titans kragte gemeet en met 32 lopies die septer in Pretoria geswaai.
Die Knights het eerste gekolf en die Titans se boulaanval karnuffel en ’n reuse 223 / 6 aangeteken met goeie bydraes van 66 en 44 deur onderskeidelik Rilee Rossouw en Gerrit Snyman.
Daarna het die besoekers die tuisspan met akkurate boulwerk deur veral die voormalige Protea draaier Aaron Phangiso wat twee kolwers laat terugstap het vir 22 lopies tot 191 / 6 beperk.
Die Dolphins het op hul tuisveld Kingsmead hul eerste sege in diè reeks behaal en die Westelike Provinsie met 4 paaltjies uitgestof. Die Kapenaars het 167 / 6 opgestapel waarna die tuisspan die wenteiken in die voorlaaste boulbeurt bereik het.