Die Protea vroue het ’n tree nader gegee om vir die halfeindronde van die T20 Wêreldbeker-kriekettoernooi te kwalifiseer nadat hulle Skotland met 80 lopies getrap het.
Laura Wolvaardt en Tazmin Brits het weereens gekook met ’n openingsvennootskap van 64 lopies en die span help vorder na ’n totaal van 166 / 5. Diè duo het ook die rekord gebreek vir die meeste lopies in die kragspel van die toernooi sover.
Daarna het die linkerhandse draaibouler Nonkululeko Mlaba deur die Skotte se kolfys geruk en uiteindelik gespog met ’n ontleding van 3 / 12 in haar vier beurte en diè dames beperk tot 86 almal uit.
Suid-Afrika speel eerskomende Saterdag teen Bangladesh met diè kragmeting wat om 16:00 (SA tyd) begin.
In die plaaslike KSA T20 reeks was die Knights in aksie teen die Lions waar die Gautengers met 47 lopies die wa deur die drif getrek het.
Die besoekers het 142 / 7 aangeteken terwyl die voormalige Protea draaier Aaron Phangiso geskitter het met boulsyfers van 3 / 26.
Die Lions se boulers het egter verrigtinge oorheers en die Knights vir ’n skamele 95 uitgeknikker in die agtiende boulbeurt.