Die Proteas het sake gelyk getrek in die tweede T20 wedstryd teen Indië nadat Aiden Markram se span met drie paaltjies Sondag op St. Georges Park in Gqeberha kon seëvier.

Die besoekers het eerste gekolf en kon net 124 / 6 bymekaar maak met Hardik Pandya wat Indië se beurt aanmekaar gehou het met 39 onoorwonne lopies.

Die Proteas se kolwers het die klein teiken versigtig benader en was op ’n stadium ietwat in die moeilikheid op 86 / 7 maar die Speler van die Wedstryd Trsitan Stubbs het koelkop gebly vir sy 47 nie uit nie en het saam met Gerald Coetzee op 19 die wenteiken met ses aflewerings oor bereik.

Die derde wedstryd in die reeks van vyf word Woensdag op SuperSport Park in Centurion beslis.

In die plaaslike KSA meerdagwedstryd moes die Knights en die Dragons met ’n onbesliste uitslag tevrede wees wat op die Mangaung Ovaal beslis was.

Die Knights het 350 in hul eerste beurt aangeteken met die aangvangskolwer Lesego Senokwane wat ‘n loopbaanbeste van 205 agter sy naam kon skryf.

Die Dragons het 232/ 9 in hul eerste kolfbeurt aangeteken en met hul telling op 221 / 3 in die tweede het die spelers egter hand geskud.

Die Knights is na twee wedstryde bo-aan die punteleer op 40.32 en speel vanaf 19 November weer teen die Titans in Pretoria in hul volgende groepwedstryd.

error: Inhoud is beskerm !!
×

Rosestad, Waar jy wil wees, trots in Afrikaans

×