KRIEKET – Die Proteas se weerstand het teen Indië in die laaste en beslissende eendag wedstryd verkrummel toe die tuisspan ‘n verspot maklike oorwinning van 7 paaltjies oor die besoekers behaal het.

Suid-Afrika is vir ‘n skamele 99 lopies uitgehaal met net Heinrich Klaasen wat enige weerstand met sy beurt van 34 gebied het. Die Indiese boulers het baljaar terwyl die linkerhandse gewrigsdraaier Kuldeep Yadav behoorlik partytjie gehou het en 4 paaltjies vir net 18 lopies laat kantel het.

Die tuisspan het vanuit die staanspoor losgetrek met Shubman Gill wat met ‘n puik beurt van 49 help verseker het dat Indië diè reeks met 2 – 1 beklink het.

Die Suid-Afrikaners sal nou hul fokus na Australië verskuif wanneer die T20 Wêreldbeker toernooi ook eerskomende Sondag in aanvang neem. Sri Lanka open verrigtinge teen Namibië in Victoria waarna die Verenigde Arabiese Emirate ook teen Nederland op die 1ste dag kragte sal meet.

error: Inhoud is beskerm !!
×

Rosestad, Waar jy wil wees, trots in Afrikaans

×