KRIEKET – Die Internasionale Eendagreeks tussen die Proteas en Engeland het die afgelope naweek skitterende krieket op die Mangaung Oval in Bloemfontein opgedis.

Suid-Afrika het Vrydag op ’n hoogtepunt  begin toe hulle die Engelse met 27 lopies uitgestof het. Die Proteas het op ’n kolwersparadys 298 / 7 aangeteken met Rassie van der Dussen wat geskitter het met sy bydrae van 111.

Engeland se Jason Roy en David Malan het egter planne gehad om die totaal te jaag en het 146 lopies om die eerste paaltjie aangeteken maar Speler-van-die-Wedstryd Sisanda Magala met 3 / 42  en Anrich Nortje met 4 / 62 het egter die besoekers se aanslag in hul spore laat stuit.

Sondag se wedstryd het Suid-Afrika se karakter en veggees getoets en diè span het dit met vlieënde vaandels geslaag.

Die kolfblad het vroegoggend hulp verleen aan die Protea boulers maar soos die son al warmer begin bak het, het dit houespel begin vergemaklik en kon Engeland ’n reuse 342 / 7 opstapel.

Temba Bavuma het egter daarna met ’n briljante kapteinsbeurt van 109 die beurt geanker terwyl die staatmaker David Miller met nog ’n waardevolle 50-tal die wa deur die drif getrek het en ook op gepaste wyse met ’n sierlike 6 die oorwinning vir die tuisspan kon verseker.

Die Proteas wen diè reeks 2 – 0 en speel Woensdag die laaste wedstryd op die Diamond Oval in Kimberley.

error: Inhoud is beskerm !!
×

Rosestad, Waar jy wil wees, trots in Afrikaans

×