KRIEKET – Suid-Afrika het met ’n skitterende Chloè Tryon aan die voorpunt die driehoekige-reeks teen Indië gister met 5 paaltjies in Oos-Londen gewen.
Indië kon net ‘n beskeie 109 / 4 na 20 beurte op die telbord plaas met Harleen Deol wat ’n alleenstryd vir haar 46 gevoer het terwyl Nonkululeko Mlaba 2 kolwers vir 16 lopies laat terugstap het.
Die Proteas se kolfbeurt het rampspoedig begin en gesteier op 66 / 5 maar Speler-van-die-Wedstryd Chloè Tryon het koelkop gebly en haar span na ’n oorwinning gekolf met 57 onoorwonne lopies van 32 balle wat 6 viere en 2 sesse ingesluit het.
Die T20 Vroue Wêreldbeker-toernooi begin eerskomende Vrydag maar die Proteas sal ook reeds Maandag in ’n opwarmingswedstryd teen Engeland op die Maties Krieket Klub in Stellenbosch speel wat om 14:30 begin.