Die kaptein van die Suid-Afrikaanse vroue krieketspan Laura Wolvaardt is weer die voorste kolwer in Eendag krieket.
Die 25-jarige het weer na die boonste plek op die Internasionale Krieketraad se ranglys beweeg na die eerste twee wedstryde teen Engeland in hulle reeks van drie.
Die voormalige beste kolwer Nat Sciver-Brunt van Engeland het gesak na die derde plek terwyl Sri Lanka se Chamari Athapaththu nou die tweede plek beklee.
Die enigste ander Suid-Afrikaner in die top-tien is Marizanne Kapp wat tans sewende is op diè ranglys.
*Wolvaardt kon egter nie met haar kolfwerk Woensdagaand ’n oorwinning vir haar span in die derde eendagwedstryd teen Engeland verseker nie.
Die Proteas het met 6 paaltjies volgens die DLS metode verloor nadat reën die laaste sê gehad het. Die tuisspan het 233 / 8 aangeteken met Wolvaardt wat 61 lopies kon bydra.
Die besoekers het die aangepaste teiken in die 19de boulbeurt bereik met hul telling op 153 / 4 en wen die eendagreeks met 2 – 1.
Die twee spanne ontmoet mekaar vir ’n laaste keer vanjaar in die enigste toets wanneer hulle mekaar Sondag op die Mangaung Ovaal in Bloemfontein gaan aanvat.