Die dranklisensie van The Other Venue in Bloemfontein is met onmiddelike effek opgeskort.
Dit volg op die klopjag wat die Vrystaatse Dobbel-, Drank- en Toerisme owerheid (FSGITA) vroeër Donderdag uitgevoer het. Die klopjag hou verband met die dood van ‘n man wie se liggaam die week in die parkeer-area tussen Kellner- en Zastronstraat in Bloemfontein ontdek is.
LEES MEER: Klopjag word uitgevoer by kuierplek in 2de Laan in Bloemfontein
Lefa Kalane, die waarnemende uitvoerende hoof van FSGITA, het aan Rosestad-nuus gesê dat dit genoodsaak is sodat die nodige prosesse gevolg kan word deur die polisie en FSGITA. Die opskorting van die dranklisensie is vir 14 dae geldig, waarna die eienaars van die kuierplek die geleentheid gegun sal word om hulle kant van die saak te stel.
Die besluit sal dan geneem word of hulle nog mag handel dryf, al dan nie.
The Other Venue het in hul mees onlangse skrywe op sosiale media gesê hulle is dit aan hulle klante en hul personeel verskuldig om ‘n veiliger en gelukkiger omgewing vir die gemeenskap te bevorder. Dit volg na ‘n aanranding vroeër die week, direk buite hulle perseel, wat vermoedelik gelei het tot ‘n man se dood. Die skrywe sê verder dat die swak keuses van die aanvallers nie die visie en missie van The Other Venue verteenwoordig nie.
Luidens die skrywe is dit in ’n sensitiewe stadium van ’n voortdurende polisie-ondersoek. The Other Venue sê verder die aanvallers is onmiddellik afgedank as sekuriteitsdiensverskaffers vir die kuierplek – en hul identiteite sal deur wetstoepassing bekend gemaak word.
Ontstoke lede van die gemeenskap het hulle tot sosiale media gewend om hul mismoeë te kenne te gee. Hulle voel dit is teleurstellend is dat die kuierplek so ‘n vlak reaksie toon. Baie het ook gesê dat die instansie gesluit moet word en dat hulle The Other Venue moet boikot.