Laat sneeu wat vanoggend op die Van Reenenspas, Harrismith, Kestell, Golden Gate en Qwa-Qwa geval het en verkeer op die N3 bemoeilik het, is nie heeltemal so ‘n vreemde verskynsel nie maar dit dui tog op El Nino-toestande. Dit is volgens ‘n landbou-weerkundige, Johan van den Berg. Hy het aan Netwerk 24 gesê koue fronte neig om later voor te kom wanneer El Nino heers. Met baie lug uit die suide wat ingevoer word deur ‘n hoogdrukstelsel en warm lug vanaf die trope, is die bymekaarkoms van die twee lugmassas dikwels verantwoordelik vir sneeu. Dit kan ook intense hael veroorsaak. Van den Berg het gesê klimaatsverandering kan ook ‘n rol begin speel met koue toestande wat eers later in die winter begin voorkom.