Desmond Wells se jongste rugby-liedjie is goed deur meeste van die land se rugby-unies ontvang.
Die Leeus het egter eers gebrul, voordat dié unie, volgens Rapport, ‘n ander deuntjie begin sing het. Die lied, Ek hou nie van Rugby nie, is glo aanvanklik deur die Leeu-kamp as stereotipies van ‘n “old school-rugbyondersteuner” afgemaak.
Wells het ‘n negatiewe e-pos, wat skynbaar deur die Leeus se bemarkingspan aan hom gestuur is, op sosialemedia geplaas. Hierna het die unie se Nyaniso Sam ingegryp.
Sam en Wells het, luidens Rapport, ‘n positiewe gesprek oor die pad vorentoe gevoer. In die koorgedeelte sing Wells luidkeels, Ek hou nie van Rugby nie – Ek LOVE dit.
Hy sê hy wou met hierdie lied die vreugde van rugby-ondersteuners vasvang, asook die ongelooflike manier waarop Suid-Afrikaners deur rugby saamgesnoer word.