Die Nasionale Polisiekommissaris, Fannie Masemola, het bevestig dat drie van die vyf liggame wat by die Hennopsrivier in Centurion gevind is, dié van die vermiste Vrystaatse polisiebeamptes is.
SABC News berig die konstabels het verlede week vermis geraak terwyl hulle van Bloemfontein na Limpopo gereis het.
Volgens Masemola duur die soektog na die voertuig waarin die beamptes gery het steeds voort.
Die voertuig is laas by die Brakfontein-wisselaar op die N1 wat noord ry opgemerk, wat daartoe gelei het dat die polisie die Hennopsrivier deursoek het.
Die ander twee liggame word glo nie met die drie beamptes verbind nie, en Masemola voeg by een van die liggame is die van ‘n administrasieklerk of tuinier van die Littleton Polisiestasie.