Die departement van Gesondheid in Noordwes sê sowat 52 van die 88 liggame wat nie by die Forensiese lykshuis op Brits opgeëis is nie, is begrawe. Die ander 36 sal binne die volgende twee weke begrawe word.

SABC-nuus berig die departement van Arbeid en Indiensneming het regstappe teen die provinsiale departement van Gesondheid gedoen, nadat inspekteurs verskeie oortredings van die Wet op Beroepsgesondheid en Veiligheid, aangemeld het. Daar was onder meer gebreekte koelkaste, sowel as geen watertoevoer, of voldoende ventilasie in die gebou nie.

Hoewel die departement van Gesondheid die koelkaste, water en lugreëling reggemaak het, was daar ook klagtes omdat baie liggame vir etlike maande in die koelkaste gehou is. Die departementele woordvoerder sê dit is weens polisieondersoeke wat nie afgehandel is nie.

‘n Woordvoerder van die Noordwes-polisie, Sabata Mokgwabone, het dit egter verwerp en sê nie alle gevalle kan aan die polisie toegeskryf word nie.

error: Inhoud is beskerm !!
×

Rosestad, Waar jy wil wees, trots in Afrikaans

×