Dit is vandag presies ‘n week sedert die eerste onwettige grondbesetters op munisipale
grond aan weerskante van die Jagersfonteinpad by Lourierpark in Bloemfontein toegesak
het. Een dag later, het die grondgrypers reeds meer ‘n duisend plakkershutte staande
gemaak, en dit was slegs die begin. Nagenoeg 3000 mense is verlede Saterdag na die
oop stuk grond aangery. Erwe is uitgemerk en woonstrukture is in ‘n japtrap opgerig. Die
vermoede bestaan glo dat die massa-aksie fyn beplan is, en ook na bewering deel is van
‘n sogenaamde politieke spel. Derduisende mense het sedertdien na die gebied gestroom.
Die hooggeregshof het verlede Saterdagmiddag ‘n uitsettingsbevel uitgereik en sekere
van die onwettige besetters is hierna in hegtenis geneem. Daar word berig dat Sanco
gister ‘n dringende aansoek by die hof gebring het om die uitsettingsbevel onklaar te
maak. Luidens onbevestigde gerugte het ook die polisiediens glo die hof met dieselfde
versoek genader.
Alle toegange na die grondgebied is reeds vroeg gisteroggend deur owerhede gesluit, en
daar is ‘n beroep gedoen op inwoners van Lourierpark, Pellissier en Bloemdal gedoen om
nie hulle huise te verlaat nie.
Teen laat gistermiddag, soos die Rooimiere fluks gewerskaf het om informele
wooneenhede langs die Jagersfonteinpad plat te slaan, was nuwe grondbesetters druk
aan die werk om nog blyplekke op te rig.
Om die gemeenskap in te lig oor die party se standpunt oor grondbesetting, asook
volgende stappe, is glo die redes waarom die ANC ‘n vergadering in die Lourierpark-saal
beplan het. Sekere inwoners van die buurt was uit die veld geslaan toe hulle eers teen laat
gister middag verneem het dat so ‘n vergadering gehou sou word. Meer hieroor in jou
agtuur bulletin.