Parlementslede was Dinsdag erg geskok om te hoor die regering en die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika, of Prasa, onderhandel met plaaslike konstruksie-mafias wat keer dat herstelwerk na verlede jaar se vloede in KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap voortgaan. ‘n Amptenaar van die ouditeur-generaal, of OG, se kantoor, het aan die portefeuljekomitee oor vervoer gesê die vertragings duur voort totdat onderhandelings afgehandel is om die konstruksie-mafia te begunstig. Die OG het bevind die polisie tree nie betyds op wanneer die konstruksie-mafia toeslaan nie. Sello Seitlholo, ‘n DA-lid van die komitee, het gesê hy is geskok dat die regering met konstruksie-mafias onderhandel. Seitlholo het gesê hy gaan aansoek doen om uit te vind wie die tenders gekry het en watter ooreenkomste met die konstruksie-mafias aangegaan is. Hy het gesê dit maak ‘n bespotting van president Cyril Ramaphosa se besluit om soldate te ontplooi en geld te spandeer om teen konstruksie-mafias op te tree. Lede van die mafia moet in hegtenis geneem word en nie gepaai word nie, het Seitlholo gesê.
