Die Demokratiese Alliansie sê die ware matriekslaagsyfer is 55,3 persent wat ‘n verbetering is op verlede jaar se 54,6 persent. Die party sê hy verskil van die Departement van Basiese Onderwys se slaagsyfer van 82 komma nege persent. Die DA sê die ware slaagsyfer bring die aantal leerlinge in berekening wat deur die loop van hul skoolloopbaan uitgesak het en nooit matriek geskryf het nie. Meer as 340-duisend leerlinge het tussen graad tien in 2021 en graad 12 in 2023 die skool verlaat. Die DA sê minister Angie Motshekga het 15 jaar tyd gehad om basiese onderwys in Suid-Afrika te verbeter. Die party sê haar termyn as minister word egter gekenmerk deur verskonings, die verskuiwing van spertye en om skole van hul regte te ontsê deur die wysgingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette.