’n Sestigjarige vrou van Bloemfontein en haar 34-jarige seun het in die Ladybrand-landdroshof in die Vrystaat verskyn vir bedrog en geldwassery.
Die beskuldigdes is in hegtenis geneem nadat hulle na bewering meer as tien inwoners gewerf het om in hul onwettige beleggingskema te belê.
Die slagoffers het meer as R900 000 in die MTS General Trading-skema belê.
’n Valke-woordvoerder, luitenant-kolonel Zweli Mohobeleli, sê daar word beweer dat die verdagtes die slagoffers ’n maandelikse rente-opbrengs van 30 persent uit hul beleggings belowe het.
Die beskuldigdes het glo versuim om die slagoffers terug te betaal en die saak is by die Valke aangemeld.
Die saak is tot 29 Januarie vir verdere ondersoek uitgestel.