Die Vrystaatse polisiediens verwelkom die skuldigbevinding van ‘n moeder wat haar eie seun seksueel misbruik het.
Luidens ’n polisieverklaring het die misdrywe tussen Januarie 2020 en Desember 2023 in Bayswater, Bloemfontein plaasgevind.
Dit het begin toe die seun 12 jaar oud was.
Die slagoffer het die misbruik in Februarie 2024 tydens ‘n professionele konsultasie onthul.
Konstabel Jessica du Preez van Parkweg het die ondersoek gelei wat tot die inhegtenisname van die moeder gelei het.
Sy is aan seksuele aanranding skuldig bevind en tot 60 maande korrektiewe toesig gevonnis.
Haar naam is op die Seksuele Oortreders-register geplaas, en sy mag nie met kinders werk nie.