Die Mangaung Brandbeskermingsvereniging, oftewel MAFPA, waarsku dat die hoë tot baie hoë temperature tot volgende week sal voortduur.
Die uiterse hitte, gekombineer met aanhoudende droë weer, verhoog die veldbrandrisiko. Dit is veral in die MAFPA-gebiede wat verlede maand ondergemiddeld tot geen reënval ervaar het nie.
Hulle waarsku inwoners teen toenemende brandrisiko’s en vra dat hulle dienooreenkomstig moet voorberei. Volgens MAFPA skep sterk rukwinde en uiters onstabiele lug erge brandtoestande.
Hulle waarsku ook dat plante en grasse in sommige gebiede droog genoeg is om vlambaar te wees. Die brande se uiterse digte rook sal dit moeilik maak om te sien.