Dreigemente en dade van sabotasie is terreur, het die Vrystaatse DA-leier, Roy Jankielsohn, gesê na aanleiding van ‘n Twitter-boodskap dat faksies in die provinsie beplan om infraktruktuur te saboteer. Die mense wat dit beplan, wil glo verseker dat Ace Magashule weer Vrystaat se premier kan word. Netwerk 24 berig die inligting waaroor getwiet is, het reeds gelei na ‘n ondersoek van die Spesiale Ondersoek-eenheid. Die fluitjieblaser en menseregte-aktivis, Patricia Mashale verwys in haar twiet na whatsapp-boodskappe wat verband hou met ‘n nuwe politieke party en planne om infrastruktuur te saboteer. Water-projekte in die Vrystaat wat oor baie geld beskik, word genoem. Die doel van die sabotasie is om tenders aan te stel wat Magashule glo voorsien het. Die geld sal later na Magashule se nuwe party gekanaliseer sal word. Magashule gaan Vrydag bekendmaak of hy ‘n nuwe party gaan stig.
