Inwoners langs die Vaalrivier sal glo nie regeringshulp kry vir eiendomskade nie.
The Citizen berig die minister van Water en Sanitasie, Pamela Majodina, het die Bloemhofdam besoek ná oorstromings veroorsaak is deur hoë invloei en watervrystelling.
Volgens haar sal die regering nie verantwoordelik gehou word vir skade aan eiendom wat te naby aan die vloedlyn gebou is nie.
Die dam was Vrydag op 110,7% kapasiteit, en meer reën word voorspel.
Sy het gesê die situasie word gemonitor en dat daar geen rede tot paniek is nie, al is die dam oud.
Kritiek oor die laat opening van sluise is van die hand gewys.
Majodina het beklemtoon dat vloede weens reënval nie beheer kan word nie.
Vyf radiale hekke is oop, en verdere uitvloeing bly moontlik.