’n Laaste poging deur die leier van die EFF Julius Malema en vyf van sy lede om volgende maand die staatsrede by te woon, het misluk. Hulle het hulle tot die hooggeregshof van die Wes-Kaap gewend om hul skorsing vir Februarie ter syde te stel. Die dringende aansoek om toegelaat te word, is met koste van die hofrol geskrap.
Die EFF-lede is in Desember skuldig bevind aan minagting van die parlement en vir ʼn maand geskors – die presiese tyd wat hierdie jaar se staatsrede sal plaasvind. Hulle is ook verplig om in die Nasionale Vergadering om verskoning te vra. Die betrokke EFF-lede het tydens verlede jaar se staatsrede president Cyril Ramaphosa se toespraak probeer ontwrig en die verhoog bestorm.