Nombi Bokamoso Peter, van die Vrystaatse polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele ondersoeke is as die algehele wenner in die regsektor-kategorie by die dertiende Suid-Afrikaanse Heldintoekenningseremonie aangewys.
Maroela Media berig die toekenningseremonie word jaarliks gehou om Suid-Afrikaanse vroue te vereer wat ʼn verskil in die samelewing maak en het die naweek by Sun City in Noordwes plaasgevind.
Peter, oorspronklik van Thaba ‘Nchu in die Vrystaat, sê sy was self ʼn slagoffer van verkragting op die ouderdom van nege.
Dit het haar eindelik aangevuur om ‘n loopbaan as ‘n speurder in die eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele ondersoeke (FCS) te volg. Peter, wat oor ‘n BA-graad in forensiese ondersoek en ‘n diploma in polisiëring en menslike hulpbronbestuur beskik, is ook verbonde aan die Manguang-distrik se sogenaamde reeksverkragter-taakspan.