Die Gedragsowerheid vir die Finansiële sektor, of FSCA, sê Markus Jooste se dood het nie ‘n impak op sy ondersoek na die Steinhoff sage nie. Die 63-jarige het homself gistermiddag in Hermanus naby sy luukse villa in Voëlklip doodgeskiet.
Netwerk 24 berig Jooste het klaarblyklik op die rotse gesit en oor die see uitgekyk toe hy die sneller getrek het. Die FSCA het intussen gesê daar word ander partye ook by die ondersoek betrek en dit gaan voort. Die owerheid sal ook voortgaan om die NVG en die Valke in hul ondersoek by te staan. Volgens die FSCA beteken Jooste se dood nie dat sy boete van R475 miljoen nie meer betaal hoef te word nie. Die boete kan van sy boedel geëis word. Die boete is ‘n dag voor Jooste se selfdood uitgereik asook dat hy strafregtelik vervolg gaan word.
Intussen het ‘n voormalige direkteur van Steinhoff, Stehan Grobler, vanoggend in die hof verskyn. Grobler wat deel van Jooste se binnekring was, het homself vroegoggend by die Pretoria-Sentraal polisiekantoor oorgegee. Hy doen aansoek om borgtog.